Juno (ruimtetuig)
Juno is ’n sending van Nasa se New Frontiers-program wat tans in ’n wentelbaan om die planeet Jupiter is. Die tuig is op 5 Augustus 2011 van Kaap Canaveral af gelanseer en het op 4 Julie 2016 gearriveer. Op 5 Julie het dit in ’n wentelbaan om Jupiter gegaan.[1][2][3] Juno wentel om die planeet se pole om die samestelling, gravitasie- en magneetveld en polêre magnetosfeer te ondersoek. Dit sal ook soek na leidrade oor hoe die planeet gevorm het, of dit ’n rotsagtige kern het, die hoeveelheid water in die diep atmosfeer, massaverspreiding en diep winde, wat snelhede van tot 618 km/h kan bereik.[4]
Juno | |
---|---|
’n Kunstenaarsvoorstelling van Juno by Jupiter. | |
Operateur | Nasa/JPL |
Planeet | Jupiter |
Gelanseer | 5 Augustus 2011 |
Lanseringsvuurpyl | Atlas V 551 (AV-029) |
Gearriveer | 4 Julie 2016 |
Wentelperiode | 53/14 dae |
Duur van sending | 20 maande (wetenskapfase) Verstreke: 7 jaar, 9 maande en 27 dae |
Doel | Verkenning |
Status | Aktief |
Webtuiste | Mission Juno Juno by Nasa |
Dit is die tweede ruimtetuig wat om Jupiter wentel, ná Galileo in 1995-2003.
Juno het drie sonpaneelvlerke, die grootstes wat nog in ’n planetêre sending gebruik is, en hulle sal ’n groot rol speel in die stabilisering van die tuig en die opwekking van krag.[5]
Die naam kom uit die Grieks-Romeinse mitologie. Die god Jupiter het ’n wolksluier om hom geskep om sy verkeerde dade te verbloem, maar sy vrou, die godin Juno, het deur die wolke geloer en sy ware aard gesien.[6] Voorheen is die akroniem JUpiter Near-polar Orbiter op ’n lys van Nasa gebruik om na die sending te verwys.[7]
Oorsig
Juno het Jupiter ná ’n vlug van vyf jaar op 4 Julie 2016 bereik.[1] nadat dit sowat 2,8 miljard km (18,7 AE) afgelê het.[8] Die tuig sou aanvanklik in 20 maande 37 keer om Jupiter wentel.[9][10] Sy snelheid het in Oktober 2013, twee jaar ná sy lansering op 5 Augustus 2011, ’n hupstoot gekry danksy ’n verbyvlug verby die Aarde.[11] Op 5 Julie het die tuig se snelheid afgeneem sodat dit in ’n wentelbaan om Jupiter kon gaan. Dit sou twee omwentelings van 53 dae elk om die planeet voltooi voordat die wentelperiodes op 11 Desember 2016 verkort sou word tot 14 dae. Dit is aanvanklik vir 19 Oktober beplan, maar weens probleme met die tuig se sagteware is dit uitgestel.[12] Juno sal nou in sy wentelbaan van 53 dae bly tot met sy eerste ontmoeting met die maan Ganumedes tydens sy uitgebreide sending.[13] Dié uitgebreide sending sal begin met 'n verbyvlug van Ganumedes op 7 Junie 2021. Daaropvolgende verbyvlugte van Europa en Io sal sy wentelperiode teen Februarie 2024 tot 33 dae verkort.[14]
Infrarooi- en mikrogolf-instrumente meet die termiese uitstralings van diep binne Jupiter se atmosfeer. Dié waarnemings vul vorige studies oor die planeet se samestelling aan deur die hoeveelheid en verspreiding van water, en dus suurstof, te meet. Dit verskaf inligting oor Jupiter se oorsprong en stel ondersoek in na die konveksie wat algemene sirkulasiepatrone in die planeet se atmosfeer aandryf. Ander instrumente aan boord van Juno versamel data oor sy gravitasieveld en polêre magnetosfeer. Die sending sou in Februarie 2018 tot ’n einde gekom het wanneer die tuig in Jupiter se buitenste atmosfeer sou uitbrand om te voorkom dat dit teen een van die planeet se mane bots en dit besoedel.[9][10]
Lansering en vlug
Juno is van Kaap Canaveral af gelanseer met ’n Atlas (AV-029)-vuurpyl wat met ’n Russies ontwerpte en geboude RD-180-hoofenjin toegerus was. Dié is aangedryf deur paraffien en vloeibare suurstof. Ná sowat 54 minute het die Juno se sonpanele begin oopgaan en sy batterye begin laai.
Verbyvlugte
Ná ’n reis van twee jaar in ’n elliptiese heliosentriese wentelbaan het Juno in Oktober 2013 na die Aarde teruggekeer. Dit het die Aarde se swaartekrag gebruik om dit na die Jupiter-stelsel te stu.[15] In die proses het dit met meer as 3,9 km/s versnel.[15][16][17] Die verbyvlug is ook gebruik as ’n "repetisie" vir die wetenskapspan om sommige instrumente te toets en sekere prosedures toe te pas voor sy aankoms by Jupiter.[15][18]
Wentelbaan en verlengde sendings
Jupiter se swaartekrag het die tuig se snelheid vermeerder tot sowat 74 km/s toe dit die planeet nader. Op 5 Julie 2016 is Juno se snelheid verminder tot 542 m/s en het dit ’n wentelbaan om Jupiter se pole binnegegaan wat 53,5 dae sal kos om te voltooi.[19] Ná twee omwentelings sou die wentelperiodes verkort word tot 14 dae. Juno sou altesaam 37 wentelbane voltooi het voor die einde van die sending.[20]
In Junie 2018 het Nasa die sending tot in Julie 2021 verleng.[21] In Januarie 2021 is die sending weer verleng, tot in September 2025.[22] In dié fase sal Juno die binnemane Ganumedes, Europa en Io verken. In die middel van 2021 sal dit binne 1 000 km van Ganumedes kom, teen einde 2022 sowat 320 km van Europa en in 2024 sowat 1 500 km van Io. Dit sal help met toekomstige sendings, soos Nasa Europa Clipper Mission en die ESA se JUICE (JUpiter ICy moons Explorer).[23]
Galileo-gedenkplaat en Lego-minifigure
In Juno is ’n plaat wat Galileo Galilei gedenk. Dit is deur die Italiaanse Ruimteagentskap verskaf en is 7,1 by 5,1 cm groot.[24] Die plaat bevat ’n foto van Galileo en ’n geskrewe stuk in sy eie handskrif wat in Januarie 1610 geskryf is terwyl hy dít waarneem wat later as die Mane van Galilei bekend sou staan.[24]
Aan boord is ook drie Lego-minifigure van Galileo, die Romeinse god Jupiter en sy vrou, Juno. Jupiter het ’n wolksluier om hom geskep om sy verkeerde dade te verbloem, maar Juno het van die berg Olimpus af deur die wolke gekyk en sy ware aard gesien. Die Juno-figuur hou ’n vergrootglas vas wat ’n soeke na die waarheid verteenwoordig en Jupiter het ’n weerligstraal in sy hand. Galileo het sy teleskoop by hom.[25]
Die figure is van aluminium gemaak om die uiterste toestande van die ruimtevlug te kan deurstaan.[26]
Tydlyn
Datum | Gebeure |
---|---|
5 Augustus 2011 | Lansering |
Augustus 2012 | Vlugaanpassings[27] |
September 2012 | |
Oktober 2013 | Verbyvlug verby die aarde; versnel van 126 000 km/h tot 150 000 km/h.[28] |
4 Julie 2016 | Arriveer by Jupiter[9][10] |
5 Julie 2016 | Betree ’n wentelbaan om Jupiter[9][10] |
Aanvanklik beplan: 37 omwentelings beplan oor 20 maande | |
27 Augustus 2016 | Eerste perijovium (naaste afstand aan Jupiter) |
11 Julie 2017 | Verbyvlug oor die Groot Rooi Vlek[29][30] |
7 Junie 2021 | Verbyvlug van Ganumedes; wentelperiode verkort van 53 tot 43 dae[31] |
20 Julie 2021 | Einde van eerste sendinguitbreiding[31] |
29 September 2022 | Verbyvlug van Europa; wentelperiode verkort van 43 tot 38 dae[31] |
30 Desember 2023 | Verbyvlug van Io[31] |
3 Februarie 2024 | Tweede verbyvlug van Io; wentelperiode verkort tot 33 dae[31] |
September 2025 | Einde van tweede sendinguitbreiding[31] |
Foto's deur Juno
- Streek van Jupiter met verskeie botsende atmosfeerstorms (27 Maart 2017)
- Nabyskoot van die Groot Rooi Vlek, vanaf sowat 8 000 km (11 Julie 2017)
- Foto geneem vanaf 16 535 km bo die atmosfeer (10 Julie 2017)
- Geneem tydens vlug weg van Jupiter, sowat 46 900 km bo die wolke (19 Mei 2017)
- Foto wat die suidelike storms van Jupiter duidelik wys
Verwysings
Eksterne skakels
- Amptelike webtuiste by nasa.gov
- Juno-sending by die South West Research Institute
- Juno-sendingprofiel Geargiveer 11 Junie 2007 op Wayback Machine
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Juno (ruimtetuig).
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia