Stawropol-krai

federale deelgebied van Rusland

Stawropol-krai (Russies: Ставропо́льский край, Stawropolski krai) is ’n deelgebied van Rusland. Dit lê in die Noord-Kaukasiese Federale Distrik en die hoofstad en grootste stad is Stawropol. Pjatigorsk is die administratiewe hoofstad van die Noord-Kaukasiese Federale Distrik.

Stawropol-krai
Ставропольский край
Die ligging van Stawropol-krai in Rusland.
Die ligging van Stawropol-krai in Rusland.
Politieke status
Land Russiese Federasie
Federale distrikNoord-Kaukasiese
Ekonomiese streekNoord-Kaukasiese
Stigting10 Januarie 1934
Regering
HoofstadStawropol
LeierWalery Zerenkof
AmpGoewerneur
WetgewerStaatsdoema
Bevolking
Sensus2010
Totaal2 786 281
Volgorde14de
Digtheid41,9/km²
Stedelik57,2%
Plattelands42,8%
Statistiek
Oppervlakte66 500 km²
Volgorde45ste
TydsoneUTC+04:00
Registrasienommer26
Amptelike taleRussies
Webtuistehttp://www.stavkray.ru/
Wapen en vlag
Portaal  Portaalicoon  Rusland

Stawropol-krai het in 2010 ’n bevolking van 2 786 281 gehad.[1]

Die krai word begrens deur die Krasnodar-krai in die weste, Rostof-oblast in die noordweste, Kalmikië in die noorde, Dagestan in die ooste en Tsjetsjnië, Ingoesjetië, Noord-Ossetië-Alanië, Kabardino-Balkarië en Karatsjai-Tsjerkessië in die suide. Dit is een van die veelvolkigste federale gebiede in Rusland – daar is 33 etniese groepe met meer as 2 000 persone elk. Die westelike streek van Stawropol-krai word beskou as deel van die Koebanstreek, die tradisionele tuiste van die Koeban-Kosakke. Die grootste deel van die krai se bevolking woon in die opvanggebied van die Koebanrivier.

Geskiedenis

Die krai is op 17 Oktober 1924 gestig as die Noord-Kaukasiese Krai. Ná verskeie administratiewe veranderings is dit in Maart 1937 hernoem tot Ordzjonikidze-krai (Орджоникидзевский край, Ordzjonikidzefski krai), na die Sowjet-politikus Sergo Ordzjonikidze, en op 12 Januarie 1943 tot Stawropol-krai.

Geografie

Die krai beslaan die sentrale deel van die voorgebied van die Kaukasus-gebergte en die grootste deel van die noordelike hange van die berge. Dit grens aan Rostof-oblast, Krasnodar-krai, Kalmikië, Dagestan, Tsjetsjnië, Noord-Ossetië, Kabardino-Balkarië en Karatsjai-Tsjerkessië.

Klimaat

Die grootste deel van Stawropol-krai ondervind ’n kontinentale klimaat met warm somers en hoë humiditeit (behalwe in die berge). Winters is korter en warmer as in die grootste deel van Rusland, maar daar is steeds sneeu en dit is baie koud. Die gemiddelde temperatuur in Januarie is tussen -2 °C en -6 °C. Die gemiddelde temperatuur in Julie is tussen 20 °C en 25 °C. Uiterstes wissel van -35 °C in die winter tot 40 °C in die somer. Die gemiddelde jaarlikse reënval is van 400 tot 600 mm.

Demografie

Etniese verspreiding

Volgens die Russiese sensus van 2010[1] was daar 33 etniese groepe in Stawropol-krai met meer as 2 000 persone elk, en dit maak die krai een van die veelvolkigstes in Rusland. Van die groepe was Russe (80,9%), Armeniërs (5,9%), Armeno-Tats (2%), Dargins (1,8%), Kaukasiese Grieke (1,2%), Romani (1,1%), Oekraïners (1,1%), Nogais (0,8%), Azerbeidjani's (0,6%), Karatsjai (0,6%), Turkmene (0,5%), Tsjetsjniërs (0,4%), Tatare (0,4%), Ossetiërs (0,3%), Belarusse (0,3%) en Koreane (0,2%). Altesaam 26 855 mense het nie hulle etnisiteit verklaar nie. Daar word geraam die verspreiding van dié groep is dieselfde as vir die groep wat wel hulle etnisiteit verklaar het.[2]

Die bevolking is gekonsentreer in die stroomgebiede van die Koeban- en die Koemarivier, wat tradisioneel Kosakland was. Die Koeban-Kosakke word steeds beskou as ’n belangrike minderheid in die streek.

Stede en dorpe

Landbou

Besproeide landerye kom wydverspreid voor. Aan die begin van 2001 was daar 3 361 km besproeiingskanale. Van die belangrikstes is:

  • Die Newinnomissk-kanaal (Невинномысский канал), die hoofkanaal van die Koeban-Jegorlik-stelsel.
  • Die Groot Stawropol-kanaal (Большой Ставропольский канал), wat water uit die Koeban ooswaarts deur die hele krai gelei.
  • Die Terek-Koema- en die Koema-Manitsj-kanaal wat water uit die Terek-rivier via die Koema na die Oos-Manitsj-rivier gelei.

Verwysings

Skakels