Suid-Amerika

vasteland in die Westelike Halfrond wat die ewenaar oorspan

Suid-Amerika

Ligging van Suid-Amerika op 'n wêreldkaart

Oppervlakte17 840 000 km² (4de)
Bevolking385 742 554 (2011, 5de)
Bevolkingsdigtheid21,4/km²
Lande12
Afhanklike gebiede3
TaleSpaans, Portugees, Engels, Frans, Nederlands, Quechua, Aymara, Guaraní, Papiaments en verskeie ander
TydsonesUTC-2 (Brasilië) tot UTC-5 (Ecuador)
Grootste stedeVlag van Brasilië São Paulo
Vlag van Peru Lima
Vlag van Colombia Bogotá
Vlag van Brasilië Rio de Janeiro
Vlag van Chili Santiago de Chile
Vlag van Venezuela Caracas
Vlag van Argentinië Buenos Aires
Vlag van Brasilië Salvador da Bahia
Vlag van Brasilië Brasília
Vlag van Brasilië Fortaleza
Vlag van Brasilië Belo Horizonte
N0-30, W60-90N0-30, W30-60
S0-30, W60-90S0-30, W30-60
S30-60, W60-90S30-60, W30-60
30° (Suid-Amerika)

Suid-Amerika is 'n kontinent in die Westelike Halfrond van die Aarde met meeste van sy gebied in die Suidelike Halfrond. Die kontinent lê tussen die Stille Oseaan (in die weste) en die Atlantiese Oseaan (in die ooste). Die Andesgebergtes loop langs die westekant van die kontinent af. Die gebied oos van die Andes is hoofsaaklik tropiese reënwoude met die Amasonerivier wat deur die noordelike kant van Suid-Amerika, net suid van die ewenaar, vloei.

Geografie

Topografiese kaart van die Andes

Die Suid-Amerikaanse kontinent beslaan sowat 17,8 miljoen km² en lê grotendeels in die Suidelike Halfrond, tussen 35° en 80° WL en 12° NB en 55° SB. Dit is min of meer driehoekig, met die breedste deel in die noorde en die punt in die suide. Die afstand tussen die noordelikste punt, Kaap Gallinas in die Karibiese See, en die suidelikste, Kaap Hoorn in die Straat van Drake, is sowat 7 500 km.

Die breedste deel (sowat 5 000 km) is tussen Kaap Branco aan die Atlantiese Oseaan en Punt Parina aan die Stille Oseaan. Suid-Amerika is die vierde grootste van die kontinente en beslaan sowat 12% van die aarde se oppervlakte. Dit word begrens deur die Karibiese See (noordwes), die Atlantiese Oseaan (noordoos, oos en suidoos), die Straat van Drake (suid) en die Stille Oseaan (wes).

Die kontinent is in die noordweste deur die landengte van Panama met Sentraal- en Noord-Amerika verbind. Die kus styg skerp uit die see op en daar is min plekke wat vir natuurlike hawens geskik is. Die omringende kontinentale plat is smal en ontbreek plek-plek (soos voor die kus van Peru) geheel en al.

'n Aantal eilandgroepe is deel van die kontinent: La Tortuga, Margarita en Trinidad voor die kus van Venezuela; die Falkland-eilande voor die suidooskus van Patagonië; die Juan Fernández-eilande voor Chili; en die Galápagos-eilande voor die kus van Ecuador.

Geologiese samestelling

Die Angel-watervalle in Venezuela
Cerro Roraima op die drie-landgrens tussen Brasilië, Venezuela en Guyana is van die hoogtes in die Hoogland van Guiana

Die Suid-Amerikaanse kontinent kan in drie geologiese tydperke onderskei word: die ou massiewe, die depressies en die jong plooiingsgebergtes. Die ou massiewe het aan die einde van die Prekambrium (sowat 600 miljoen jaar gelede) ontstaan en bestaan meestal uit graniet en ander stollingsgesteente wat sowat drie miljard jaar oud is.

Die oermassief het met verloop van tyd in drie skilde of hooglande verdeel, naamlik die Hoogland van Guiana, die Brasiliaanse Hoogland (geskei deur die Amasonebekken) en die Patagoniese Hoogland in die suide. Die hooglande is betreklik vlak en wissel tussen 250 en 600 m. Die hoogste pieke van die Hoogland van Guiana lê aan die suidrand aan die Amasonebekken, naamlik Roraima (2 800 m), Pico da Neblina (3 000 m) en Tramán Tepui (3 000 m). Die hoogste waterval ter wêreld, die Angel-waterval (900 m). is ook in die gebied. Die oostelike deel van die Brasiliaanse Hoogland het 'n uitloper aan die Atlantiese kus, die Sa do Mar, met 'n gemiddelde hoogte van 900 m en 'n piek, Pico Pedra do Sino, van 2 260 m. In die gebergte en in die Suikerbroodpieke aan die kus van Rio de Janeiro is die ou Prekambriese kristallyne gesteente sigbaar.

Die Patagoniese Hoogland word van die jonger Andesgebergte geskei deur depressies wat met mariene sediment opgevul is. Die Orinocobekken, wat sowat 600 000 km² beslaan, skei die Karibiese tak van die Andes van die Hoogland van Guiana. Erosie van veral die Andesgebergte het materiaal vir die opvulling van die bekken gelewer, sodat 'n sagte helling na die ooste gevorm is en die Orinocorivier na die rand van die Hoogland van Guiana gedruk is.

Die Amasonebekken is die grootste rivierbekken ter wêreld en het 'n oppervlakte van sowat 1,5 miljoen km². Tussen die Andes en die ou skilde lê 'n lang, vlak bekken, waarin die stroomgebied van die Río Paraná-, die Río Paraguay-, die Gran Chaco- en die Pampasrivier lê. Die bekken is ook met mariene- en latere riviersediment tot 'n baie vlak landskap opgevul waarin moerasse ontstaan het.

Onder die dik laag sediment lê die sogenaamde Gondwana-plooiinge (vroeë Paleosoïkum) tussen die oostekant van die Andes in Sentraal-Chili en die Falkland-eilande. Die oerplooiinge word voortgesit aan die suidkus van Suid-Afrika en word beskou as 'n bevestiging van Wegener se teorie oor die verskuiwing van die kontinente.

Die Paranabekken in die Brasiliaanse Hoogland is heeltemal met vulkaniese materiaal oordek. Dit beslaan 'n oppervlakte van 1,1 miljoen km² en is die grootste lawaveld ter wêreld. Die jongste gedeelte van die Suid-Amerikaanse kontinent is ook die langste ononderbroke reeks plooiingsgebergte ter wêreld, naamlik die Cordilleras de los Andes. Die vorming van die Andes het ruim 70 miljoen jaar gelede aan die einde van die Mesosoïkum begin en in die Tersiêr (tussen 70 en 5 miljoen jaar gelede) voortgeduur.

Die talle aardbewings en aktiewe vulkane dui daarop dat die gebied  nog nie gestabiliseer het nie. Die Andes het talle pieke wat hoër as 6 000 m is en is aan die suidpunt met gletsers bedek. Na die noorde word die Andes 'n komplekse reeks bergkettings, wat in Bolivië op sy breedste (800 km) is.

Klimaat

Klimaatsones in Suid-Amerika volgens die Köppen-klimaatklassifikasie

Die klimaat van die Suid-Amerikaanse kontinent wissel geweldig vanweë 'n aantal faktore: die uitgestrektheid, die koue golfstrome aan die weskus (Peru- of Humboldtstroom) en suidelike ooskus (Falklandstroom), die warm golfstrome langs die ooskus (Suidelike Ekwatoriale en Brasiliaanse Stroom) en die Andesgebergte, wat die westewinde afkeer.

Die grootste gedeelte van die kontinent tussen 10° NB en 20° SB het 'n tropiese klimaat, met 'n hoë reënval deur die jaar in die Amasonebekken. In die res van die gebied oos van die Andes heers ’n savanneklimaat met 'n droë winter. Ook Oos-Argentinië, Uruguay en die suidpunt van Brasilië het ’n gematigde klimaat met reën deur die jaar en hoë somertemperature (meer as 20°C).

'n Halfwoestyngebied, met 'n lae reënval, strek in die noorde vanaf die Suid-Atlantiese kus tussen die Platagebied en die Straat van Magellaan tot in Bolivië, en langs die kus van die Stille Oseaan tussen Santiago de Chile tot in Noord-Peru. Die hoogste gedeeltes van die Andes het 'n toendraklimaat met ’n gemiddelde somertemperatuur wat in die warmste maand nie hoër as 10°C styg nie.

Lande in Suid-Amerika

Nasa-Satellietbeeld van Suid-Amerika
Naam van streek en gebied, met vlagOppervlak
(km²)
Bevolking
(2009)
Bevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
 Argentinië2 766 89040 482 00014Buenos Aires
 Bolivië1 098 5809 863 0008La Paz en Sucre
 Brasilië8 514 877202 241 71422Brasília
 Chili756 95016 928 87322Santiago de Chile
 Colombia1 141 74846 920 00040Bogotá
 Ecuador283 56014 573 10154Quito
 Falkland-eilande (Verenigde Koninkryk)12 1733 140[1]0,26Stanley
 Frans-Guyana (Frankryk)91 000221 500[2]3Cayenne
 Guyana214 999772 2984Georgetown
 Paraguay406 7506 831 30616Asunción
 Peru1 285 22029 132 01322Lima
 Suid-Georgië en die Suidelike Sandwicheilande (Verenigde Koninkryk)3 093200Grytviken
 Suriname163 270472 0003Paramaribo
 Uruguay176 2203 477 78019Montevideo
 Venezuela916 44531 648 93030Caracas
Suid-Amerika Totaal17 824 513385 742 55422

Sien ook

Verwysings

Bronnelys

Eksterne skakels


Kontinente van die wêreld


Afrika-Eurasië

Amerikas

Eurasië

Oseanië


Afrika

Antarktika

Asië

Australië

Europa

Noord-Amerika

Suid-Amerika

Geologiese superkontinente : Gondwana · Laurasië · Pangaea · Rodinia · Ur · Vaalbara