Macau Spesiale Administratiewe Streek van die Volksrepubliek China 中華人民共和國澳門特別行政區 (Chinees) Região Administrativa Especial de Macau da República Popular da China (Portugees)
Macau of Macao (Chinees: 澳門 / 澳门 Àomén, Portugees: Macau; letterlik: "Baaihawe"), amptelik die Macau Spesiale Administratiewe Streek van die Volksrepubliek China (Portugees: Região Administrativa Especial de Macau da República Popular da China, Chinees: 中華人民共和國澳門特別行政區), is naas Hongkong een van twee spesiale administratiewe streke van die Volksrepubliek China. Macau is wes van die Pêrelrivierdelta en Hongkong aan die kus van die Suid-Chinese See geleë en grens in die noorde aan die Chinese provinsie Guangdong.
Macau was die eerste en die laaste Europese kolonie in China. Portugese handelaars het hulle reeds in die 16de eeu in Macau gevestig en die gebied begin administreer. In 1887 het die Chinese Mantsjoe-regering die Portugese heerskappy oor die gebied amptelik erken.
Macau het op 20 Desember 1999 weer onder Chinese soewereiniteit gekom, maar sal volgens 'n Portugees-Chinese ooreenkoms hierna nog vyftig jaar lank tot in 2049 'n selfregerende streek bly. Volgens die beginsel van "een land, twee stelsels" is die regering van die Volksrepubliek China verantwoordelik vir die verdediging en buitelandse betrekkinge van Macau, terwyl die streek sy eie regstelsel, polisiemag, monetêre stelsel, doeane- en immigrasiebeleid sal handhaaf. Macau word in internasionale organisasies en by internasionale gebeurtenisse deur sy eie afgevaardigdes verteenwoordig.
1. Land deels in Afrika. 2. Land deels in Europa. 3. Geografies in Asië, maar gereeld beskou as deel van Europa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings.