Engelse nasionale sokkerspan

Die Engelse nasionale sokkerspan het Engeland sedert die eerste internasionale wedstryd in 1872 in internasionale sokker verteenwoordig. Dit word beheer deur The Football Association (FA), die beheerliggaam vir sokker in Engeland, wat by UEFA geaffilieer is en onder die wêreldwye jurisdiksie van wêreldsokker se beheerliggaam FIFA val.[1][2] Engeland neem aan die drie groot internasionale toernooie deel waarom deur Europese nasies meegeding word: die FIFA Wêreldbeker, die UEFA Europese Kampioenskap en die UEFA Nasiesliga. Engeland se tuisveld is Wembley-stadion, Londen, en sy oefenhoofkwartier is St George's Park, Burton upon Trent.

Die doelwagter Peter Shilton is Engeland se speler met die meeste wedstryde (125).
Wayne Rooney is Engeland se voorste doelskieter met 53 doele.

Engeland is die gesamentlike oudste nasionale span in sokker. Dit het die wêreld se eerste internasionale sokkerwedstryd in 1872 teen Skotland gespeel. Die wedstryd het in Hamilton Crescent, Glasgow, die tuiste van die West of Scotland Cricket Club, plaasgevind. Engeland het as "tuiste van sokker" die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 aangebied en tydens die eindstryd Wes-Duitsland met 4–2 geklop.[3] Met 'n Britse televisie gehoorpiek van 32,30 miljoen is die eindstryd die mees gesiene televisie-gebeurtenis ooit in die Verenigde Koninkryk.[4] Tydens die UEFA Europa-beker 2020 het Engeland vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Italië met 3–2 ná strafskoppe verslaan. Engeland se hoogste sokkerliga is die Premier League, gevolg deur die Football League Championship.

Engeland is een van agt nasies wat die Wêreldbeker gewen het.[5] Engeland het 16 keer vir die Wêreldbeker-toernooi gekwalifiseer. Hulle het die 1966 Wêreldbeker-eindstryd gewen, 'n toernooi wat hul ook aangebied het, en het in beide 1990 en 2018 vierde geëindig. Engeland het nog nooit die Europese Kampioenskap gewen nie, met sy beste vertoning tot dusver as naaswenners in 2020.

As 'n samestellende land van die Verenigde Koninkryk is Engeland nie 'n lid van die Internasionale Olimpiese Komitee nie en neem dus nie aan die Olimpiese Spele deel nie.

Engeland is tans die enigste span wat die Wêreldbeker op seniorvlak gewen het, maar nie hul groot kontinentale titel nie, en die enigste nie-soewereine entiteit wat die Wêreldbeker gewen het.

Verwysings

Eksterne skakels